Img

Graad 3 Uitstappie

Ons Gr.3's het Vrydagoggend, 20 Februarie, die plaas Zeekoeifontein besoek. Die uitstappie het 8 uur begin toe ons in die busse geklim het. Almal was baie opgewonde en het lekker gesing in die bus.

By die plaas aangekom is ons in 2 groepe verdeel - die een groep het gaan berg klim en die ander het na die diere gaan kyk. Die oom van die plaas het gesê ons mag nie klippe optel of gooi nie want daar kan skerpioene onder wees en ons moet ook versigtig wees vir slange. Bo-op die berg het die tannie vir ons die Vaalrivier gewys en gesê agter die berg is Noord Wes.

Die oom het by die varkhokke vir ons vertel dat die meeste babatjies wat ’n mammasog nog by die plaas gekry het was 16. Dit het nie baie lekker geruik by die varkhokke nie, maar ons het dit vinnig gewoond geraak. Daar was baie beeste in die krale en ook die mooiste perde by die stalle. Die bruin perd se naam was "Bless". Die tyd saam met die diere was vir ons baie lekker en ons het vreeslik baie geleer oor die plaaslewe.

Ons het worsbroodjies, koeldrank en skyfies geëet en toe in die parkie gespeel. Laastens het ons klasfoto’s geneem en glo my dit was die grootste glimlagte ooit op enige klasfoto.

Ek wil namens ons Gr.3 maats vir mnr Brand en almal wat betrokke was by die reëlings vir die uitstappie, baie dankie sê. Ek wil vir ons Gr.3 juffrouens baie dankie sê dat hulle die uitstappie so spesiaal vir ons gemaak het. Ons sal ons Gr.3 uitstappie na Zeekoeifontein vir altyd in ons harte koester.

Amoné Pienaar Gr. 3S


Graad 6 Avontuurkamp

One, two, three, all eyes on me!

One, two , three, all eyes on you!

So het die leiers ons onverdeelde aandag gekry met aankoms by Maraneman. Dit was die begin was 'n baie uitdagende naweek...

Vrydagmiddag is ons geduld tot op die uiterste beproef. Nadat ons in groepe ingedeel is, het die leiers vir ons onmoontlike take gegee om uit te voer. Ons as span moes byvoorbeeld 'n PVC-pyp in die lug hou met net een vinger elk. Dan moes die span die pyp laat sak...die enigste probleem was die 'strategiese' lasplek op die pyp. Dit het dit onmoontlik gemaak om die pyp te laat sak, want as die een punt sak lig die ander een op! Dit het die spanlede lekker warm onder die kraag gehad! Oudergewoonte het die seuns en meisies mekaar deur die nag geterroriseer...skeerroom, tandepasta, Eno's...julle weet mos hoe dit werk!

Saterdag het ons aan verskeie aktiwiteite deelgeneem. Die spanne moes 'n outydse "catapult" bou uit stokke en tou om waterbalonne mee te skiet. Die res van die span moes dan die waterbalonne met vierkantige seile probeer vang sonder laat dit bars. Daarna moes ons ‘n ruimtetuig vir 'n eier uit klei en ander natuurlike materiale bou; die was baie "egg-citing". Sommige kinders her "egg-celent" stories uitgedink en "egg-ceptional" ruimtetuie gebou. Later die middag moes ons die hindernisbaan trotseer. Dit was wonderlik om te beleef hoe spanlede mekaar kan aanmoedig en help om vrese te oorkom. Daar was trane, seer hande en seer spiere, maar Marco het sonder twyfel voet by stuk gehou (of was dit nou voet in die net gehou?) en gesorg vir sy eie avontuur! Die kamp by Maraneman was verseker 'n avontuur om te onthou!


Gr 4 Wag 'n Bietjie Kamp

Met groot opgewondenheid en nog groter bagasie en padkospakkies het die Gr. 4's Maandagoggend 13 Oktober om 7:00 vertrek na Wag 'n Bietjie.

Dit was 'n avontuur waar ons SA se grootste angelierplaas besoek het, meer geleer het oor plaasdiere en ook oor ander diere soos skilpaaie, ystervarke, kamele, apies, volstruise, emoese en nog baie ander interessante diere.

En dan het ons by die punt van ’n dors kind se reënboog gekom, die koeldrankfabriek (ABI)

Ons het ook gekyk wie kraai koning op die Survivor-baan en hindernisbaan, om nie te praat van die moddergat nie.

Dan was daar ook 'n vertoning met giftige slange. By die vertoning het ons die goue reëls geleer hoe om slange te verstaan. Cap en Wizard het ons vermaak met hul hondetoertjies. Die laat aand wakkerbly en lekker kuiers op Wag 'n Bietjie het veroorsaak dat 'n moeë groepie Graad 4's Woensdagoggend moes oppak en terugkom Kollegepark toe. Maar nou ja, so kom alle goeie dinge tot 'n einde.


Voortrekkermonument

Vrydag 20 Junie was dit weer tyd vir die jaarlikse Gr. 5 uitstappie na die Voortrekkermonument in Pretoria. In rooi getooi met rugsakkies wat kreun onder piekniekkos en groot nuuskierigheid het ons vertrek.
Die leerders het die toer deur die heldesaal en museum baie geniet en hulle het aan die ervare toergidse se lippe gehang.
Na ‘n paar weke het die kinders vir ons 'n paar gedagtes neergeskryf oor dit wat hul die meeste beïndruk het tydens die besoek…..

Hier volg 'n paar gedagtes:
• Die Groot Bybel wat die voortrekkers gehad het.
• Die klere en skoene van babatjies wat in die museum was
• Daar was iets soos 'n hoë grafsteen waarop staan: "ONS VIR JOU SUID-AFRIKA" en die son skyn daarop in Desember
• Die kinders se speelgoed in die museum was baie oulik en dit het vir my gewys dit was regtig waar.
• Die hek wat van pyle gemaak is
• Die replika van 'n Ossewa
• Party kinders was helde
• Daar was 'n figuur van ‘n voortrekker wat uit versiersuiker gemaak was.
• Die tannie (toergids) was ordentlik en baie oulik, maar sy het net baie gepraat, so ons kon nie geskenkwinkel toe gaan nie.